
=====================================================================
Afrikaans het biegkamer nodig (AV 5:4)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Afrikaans het biegkamer nodig

Ampie Muller   glo dat versoening noodsaaklik is vir die voortbestaan van Afrikaans as openbare medium.

AS iemand wat Afrikaans liefhet en dit wil aanhou praat (let wel: nie handhaaf nie), voel ek 'n groot behoefte om daarop te wys hoe ons 
self dinge doen wat die voortbestaan van Afrikaans minder waarskynlik maak.

Die Afrikaner (daardie mitiese wese wat vir alle onheilighede in die land verantwoordelik gehou word), het vir hom/haar 'n groot dilemma 
geword. Wie is hy eintlik? Noudat die spaanders verkeerd geval het? Noudat die "magtige dreuning" selfs uit Ventersdorp en Ellis Park 
verdwyn het? Noudat hy nie meer die lakens uitdeel en die baantjies aan boeties kan gee nie? Hoe identifiseer hy hom noudat sy "leiers" 
soek geraak het?

Net soos Afrikanerskap is Afrikaans ook onlosmaaklik gebonde aan Afrika; buite Afrika is daar vir hierdie taal geen heenkome nie, is hy 'n 
interesssantheid, 'n rariteit, maar sonder toekoms. Afrikaans behoort dus slegs aan hulle wat die taal wil praat en aanhou praat en wat 
onomwonde lojaal aan Afrika is, wat dus in die diepste sin van die woord Afrika-ner is.

Sonder sy taal verloor die Afrikaner sy inheemse status en word setlaar.

Tog het hierdie Afrikaner wat sy nasionale bewussyn verkry het uit sy weerstand teen alle vorme van kolonialisme (sowel Nederlandse as 
Engelse) nou die albatros om die nek gehang gekry van kolonialis van alle kolonialiste.

Die ergste is dat, in 'n sekere mate, ons dit verdien. Verdien, in die eerste plek, omrede van ons diepgewortelde en erg kwetsende 
rassisme, wat 'n diep kloof geslaan het tussen Volk en volkies ..."Ek hou van 'n man ... wat die baster geslag in sy siel verag ..." ens. 
Ons het dit verdien omrede van ons aanvaarding van die "Empire" se erfenis en die verskerpte uitvoering daarvan; grense wat vir ons 'n 
steen des aanstoots was, het ons op ander afgedwing.

Ons het dit verdien omdat ons ter wille van een of die ander, nou moeilik bepaalbare voordeel, gemene saak gemaak het met koloniale 
trekvols in Mosambiek, Angola, die ou Rhodesis ens. Ons het dit verdien en verdien dit nog steeds omrede van ons skynbare onvermo of 
onwil om deel te word van die poging om versoening teweeg te bring tussen die strydende partye in ons land, en veral tussen hulle wat die 
maghebbers was in die apartheidsjare en hulle wat die meeste daaronder gely het.

Totdat die Afrikaner (weer daardie mitiese wese) besef hoe diep die kloof is wat geslaan is tussen hom en die grootste deel van die 
bevolking, deur individue en magte wat namens hom opgetree het, en hoe groot die wantroue is wat teen hom gegroei het, sal hy seker nie 
besef hoe noodsaaklik die groot versoening is nie.

Hierdie versoening is nie slegs noodsaaklik vir die voortbestaan, met selfrespek, van die Afrikaner nie, maar miskien ook vir die amptelike 
voortbestaan van Afrikaans as openbare medium. 'n Groot aantal Afrikaanssprekendes het hulle gedistansieer van die werk van die Waarheids-
en-versoeningskommissie en het dus geen deel daaraan gehad nie, en ons sit nog met die probleem van: Hoe was dit moontlik dat hierdie dinge 
kon gebeur het, en hoeveel verantwoordelikheid moet ons daarvoor dra? Met ander woorde die groot vraag hang nog oor ons: Hoeveel skuld het 
ons? Skuld nie in die sin van 'n neurotiese gevoel waarvan ek nooit weer ontslae kan raak nie, maar skuld in die betekenis van: hoeveel het 
ek geneem, gesteel of wat ook al wat ek nou moet terugbetaal?

Die groot Duitse filosoof Karl Jaspers   het n die Tweede Wereldoorlog 'n lesing gehou oor Wie is die skuldiges? waarin hy die kwessie van 
skuld bespreek. Eerstens, s hy, is daar Strafregtelike skuld: dit is die skuld van diegene wat dade gepleeg het wat landswette verbreek en 
wat dus om amnestie aansoek behoort te doen of vervolg behoort te word volgens die wette van die land; dan is daar 'n tweede kategorie, 
naamlik di van Politieke skuld. Hieronder skaar hy diegene in Duitsland wat ondersteuners van die Nasionaal-Sosialistiese Party was, wat 
die party aan die bewind geplaas en geesdriftig daar gehou het. (Dit behoort duidelik te wees wie in Suid-Afrika in hierdie kategorie sal 
val.)

Die derde kategorie is volgens Jaspers Morele skuld; hieronder val diegene wat moet erken: "Ek behoort te geweet het wat aangegaan het, 
maar ek het stilswyend of selfs met oorgawe dit laat gebeur."

Jaspers het nog 'n laaste kategorie wat hy noem: Metafisiese skuld, waar almal saam voor God die skuld van die gemeenskap dra.

Ek noem dit omdat ek vas glo dat geen groep wat op welke wyse ook al gekoppel was aan dade soos wat voor die WVK blootgel is, kan 
voortgaan asof niks gebeur het nie. Indien die Afrikaner nie daardeur werk nie, sal dit dekades lank aanhou spook en miskien daartoe lei 
dat aangeteken word die Afrikaners was 'n groep in Afrika wat aan skaamte gesterf het.

Op korter termyn kan dit lei tot verminderde simpatie en empatie by ander groepe vir Afrikaans. Waarom sal enige mens in 'n situasie waarin 
elf tale om 'n plekkie in die son meeding, vir 'n taal veg wie se sprekers jy onsimpatiek, arrogant en selfs liefdeloos vind?

Enige geleentheid waarby die Afrikaner hom vervreem van die diepste sentimente en simbole van die groter groep deur middel van woord of 
geskrif of ander daad (en myns insiens is baie van ons briewe aan koerante, ons spotprente en ons hoofberigte van di aard), slaan 'n hou 
teen die voortbestaan van Afrikaans as openbare medium.

Ons besef nie welke gulde geleentheid ons deur die vingers laat glip het n die terugkeer van die ANC uit ballingskap nie. Daar was volgens 
oorweldigende getuienis van verskillende kante 'n groot geneentheid jeens Afrikaans as Afrikataal by 'n groot aantal van die uitgewekenes.

Beverley Roos,   wat deel uitgemaak het van die Five Freedoms Forum se afvaardiging na Lusaka om senior lede van die ANC daar te ontmoet, 
skryf n haar terugkeer oor 'n gesprek met 'n lid van die politieke opvoedingsdepartement wat in daardie posisie kursusse in Afrikatale 
aangebied het: "What was their attitude to Afrikaans, I asked? Their policy was clear, they said firmly, Afrikaans is an African language. 
It is organic, not 'imported'. The policy is that everyone should speak at least one other African language, and that the Afrikaans course 
is now oversubscribed." (The Argus: Julie 1989). Roos vertel in 'n persoonlike gesprek dat een van die senior ANC lede hulle impromptu op 
'n Afrikaanse gedig vergas het.

Albie Sachs,   slagoffer van apartheid, lid van die ANC en nou regter van die Konstitusionele Hof, skryf in 'n artikel in die Cape Times 
(15 Februarie 1990), 'n uiters simpatieke stuk oor die toekoms van Afrikaans onder die titel: "Reclaim Afrikaans as language of liberty for 
all".

Vir diegene wat dit erns maak met die idee van 'n "volkstaat", 'n eie gebied, hoekom soek hulle verder as daar waar mense Afrikaans praat 
van watter afkoms hulle ook al is? As hulle met al hul probleme, ellende en armoede aanvaar word as "ons mense" (soos in die dae van die 
"armblankes" en die Reddingsdaadbond), dan is daar 'n "eie gebied" wat strek van amper die Kunene tot in die Kaap, en boonop 'n gebied wat 
op 'n organiese wyse besit word en wat juis daarom deur niemand ontneem kan word nie.

Miskien het Afrikaans vir sy voorbestaan sy eie Waarheids-en-versoeningskommissie nodig; sy eie biegkamer waar tot klaarheid gekom kan word 
oor wat ons aandeel was en is in die pyn en verdriet van hierdie "wye en droewe land"; en wat ons daaraan kan doen indien ons waaragtig 
deel van die toekoms van hierdie land wil wees. Prof. Ampie Muller   is bedryfsielkundige en konsultant.

Terug na bo

Klip in die Bos

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av5415.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Oktober 1998 /// 'n Taalstroom waaruit almal kan drink (AV 5:4) /// 
'Maak Afrikaans 'n inklusiewe Afrika taal' (AV 5:4) /// 'Met 'n los lit kom jy nie ver nie' (AV 5:4) /// ns Afrikaans vir vandag (AV 5:4) 
/// Oor taalruimte en vennootskappe (AV 5:4) /// ONS LESERS SKRYF (AV 5:4) /// Boeklose Renaissance kan nie slaag nie (AV 5:4) /// Jy kan 
s SKS staan vir So Karoo Soos ... (AV 5:4) /// Afrikaans se veilige hawe elders (AV 5:4) /// Lag of huil oor di musiek? (AV 5:4) /// Di 
volksmusikus kom van ver af (AV 5:4) /// Goeie musiek kook al hoe kwaaier (AV 5:4) /// Die bedreiging kom van binne (AV 5:4) /// 
Intellektuele inhoud ontbreek (AV 5:4) /// Afrikaans het biegkamer nodig (AV 5:4) /// Herinneringe aan 'n Wes-Kaapse winter (AV 5:4) /// 
Nederlandistiek kongresse aan die Kaap (AV 5:4) /// Moet Afrikaans en Nederlands se paaie skei? (AV 5:4) /// Jongste ng raap Pendoring se 
'prestige' op (AV 5:4) /// Afrikaanse reklame val van 'n Engelse perd (AV 5:4) /// Die land van braaivleis, sonskyn en Chevrolet (AV 5:4) 
///

